Anti-terreurspesialiste moet sokkerspelers oppas

Ek lees vanmiddag ‘n berig op http://www.praag.co.za van sommige Europese en Suid-Amerikaanse sokkerbeheerliggame wat privaat sekuriteitsfirmas aangestel het om hulle spelers wat tydens volgende jaar se wêreldbeker sokkertoernooi hier by ons kom toer te beskerm. Hierdie sekuriteitsfirmas beskik oor sekuriteitspersoneel wat al militêre ervaring in Irak en Afganistan opgedoen het. Sommige van hierdie wagte het ook al in spesiale magte gedien. Hulle is dus amper soos ons recces van vroeër jare.
Hierdie radikale optrede sê vir my twee dinge. Hierdie sokker-unies is erg bekommerd oor die veiligheid van hulle spelers wat volgende jaar kom toer ten spyte van die propaganda wat ons regering en sokker-owerheid daagliks uitsaai om ons almal te probeer gerusstel. Tweedens vertrou hulle nie ons Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte en/of maatskappye om hulle spanne se sekuriteit te behartig nie.
Hierdie radikale optrede is ‘n ernstige aanklag teen ons land en sy regering. Die ergste van alles is dat hierdie aanklag geregverdig is.
Gelukkig sal sommige sokkerspanne topklas sekuriteitsdienste kan geniet om hulle teen die aanslae van donker Suid-Afrika te beskerm. Maar wat van die gewone sokkertoeriste?
Kom ons hoop maar vir die beste vir Volgende jaar se wêreldbeker sokkertoernooi.

Kan SA Wêreldbeker sokkertoernooi suksesvol aanbied?

Vandag is daar groot opgewondenheid oor die finale loting vir volgende jaar se Wêreldbeker sokkertoernooi wat vanaand in Kaapstad gehou sal word. Al FIFA se grootkoppe is daar sowel as ‘n swetterjoel glanspersoonlikhede wat die seremonie sal bywoon. Verder gaan daar ook ‘n groot partytjie vir die gewone publiek in Langstraat gehou word sodat hulle ook in die vreugde van hierdie geleentheid kan deel.
Die groot vraag kom nog steeds by my op: kan Suid-Afrika ‘n sukses van hierdie groot sportgebeurtenis maak?
FIFA het onlangs aangekondig dat verblyf vir sokkertoeriste darem nie meer ‘n probleem is nie. Daar is glo genoeg hotelbeddens en kamers vir almal.
Sal ons vervoerstelsels voldoende wees om die klomp toeriste rond te karwei? sal ons paaie die swaar verkeer kan hanteer? Volgens lberigte moet lugrederye meer passasiersvliegtuie inkry om toeriste te vervoer omdat ons spoorweë maar erg gebrekkig is. Maar dit weet ons al jare.
Wat van veiligheid en sekuriteit? Sal ons kan sorg dat ons toeriste veilig is terwyl hulle die sokker geniet? Daar is nog gereeld berigte van buitelandse toeriste wat deur misdadigers aangeval en selfs vermoor word. As ons nie daarin slaag om die gewone landsburgers sowel as die buitelandse toeriste te beskerm nie, hoe gaan ons dan die groot groepe sokkertoeriste volgende jaar kan beskerm?
Sal ons sokkerboewery by stadions onder beheer kan hou? Suid-Afrika het nie soos Engeland ‘n databasis van sokkerboewe nie. Dit terwyl ons ons kwota van sokkerboewery gehad het. Dit was veral by wedstryde tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates wat hierdie boewe amok gemaak het omdat hulle dit nie kon vat as hulle span verloor het nie.
Daar was vanoggend ‘n meningspeiling op RSG oor hoe optimisties of pesimisties mense voel oor die sokkertoernooi. Dit blyk dat die meeste van die luisteraars wat deelgeneem het of negatief of bevrees is daaroor. Ek moet erken ek is ook maar huiwerig daaroor. Soos die meeste Afrikaners is ek nie te bekommerd oor of Bafana Bafana die eindstryd sal haal nie. Ons grootste kommer is eerder hoe hierdie gebeurtenis ons land se beeld kan opbou of afbreek.
Laat ons wag en sien wat gebeur.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg