Op die blog Herriemerrie, te besigtig by herriemerrie.wordpress.com verskyn daar ‘n interressante inskrywing onder die opskrif Road Trips wat my weer ver terugneem na die dae toe ek nog gereeld tussen die Kaap en Transvaal gereis het. Ja, en selfs met al die lekker koue padkos soos die frikadelle, worsies, kasies, toebroodjies ensovoorts. Ek onthou nog die dae toe dit nog lekker en veiliger was om met die trein te ry. Vandag sal ek dit nie sommer waag nie. Ek ry nog partykeer met die langafstand-passasiersbusse en geniet dit baie.
Ek moet erken ek hou van langpad ry, seker omdat ek nie self hoef te bestuur nie.
Maar wat sê ons kuiergaste alles? Hou julle van reis of haat julle dit omdat dit soms so vermoeiend kan wees. Neem julle padkos saam of koop julle eerder wegneemetes by die vulstasie? Wat is jou gunsteling padkos?
Het jy dalk ‘n droomreis wat jy eendag wil onderneem? Ek sien Xhina Phoenix, die eienaar van Herriemerrie, skryf sy wil eendag ‘n reis meemaak van Alexanderbaai tot by Kosibaai. Dis amper die hele lengte van ons Suid-Afrikaanse kuslyn.
Diegene van julle wat hierdie vakansie die langpad gaan vat moet dit baie geniet. Ry veilig.
Filed under: Bierpens | Tagged: padkos, reis | 2 Comments »




