Glo jy aan Vrydag die dertiende

Ek kyk nou juis vanoggend weer op die Afrikaanse WordPress blogs rond en kom loer toe so bietjie in by die hoenderhok. Ek was heel verbaas om te sien dat die blok weer sigbaar is al vir ‘n paar jaar. Bierpens het soos gewoonlik nie teleur gestel nie en skryf nog steeds puik stories oor die dinge wat ons gewone mense steeds as vaal beskou. Van rugby en suurgatte tot lyfstraf op skool. Laasgenoemde het ek baie geniet. Baie van ons wat in ‘n sekere era grootgeword het sal ‘n storie of twee hieroor kan vertel.
Aangesien dit dan vandag weer Vrydag die dertiende is, is die vraag of jy wat nou hier lees werklik aan soiets glo?
Ek persoonlik is glad nie bygelowig nie en glo ook nie daaraan nie. Maar indien daar wel in die alledaagse lewe dinge sou verkeerd loop, is dit altyd ‘n handige skuifmeel om die blaam vir wat ook al gebeur het te verskuif.
Verder glo ek ook dat indien jy wel hierdie dag sou vrees is jy dan ook meer geneig om die foute te maak wat dan tot jou slegte geluk lei.
Geniet julle dag baie en mag dit sonder ongelukke, swart katte en wat nog alles wees.

Mymering op ‘n Saterdagaand

Vanaand is ek heel in vervoering met my verlede en alles wat op een tydstip met my gebeur het. Amper so in vervoering díe dag op Tannie Voetjie se stoep toe ek die deur oopmaak en die ou soetkys in die hoek van die stoepkamer sien lê. Die kamer het gestink van die aartappelmoere wat daar gestoor was omdat die kamer voorheen nie in gebruik was nie. Soos enige sandvelder jou kan vertel kry jy nie maklik die reuk van aartappelmoere uit ‘n woonkamer nie.

Ek onthou nog goed dat my vadertjie en oompie Nols buite besig was om die ou huis se mure af te wit. Destyds het hulle in die Kaap sommer ‘n sak gypsum gekoop en dan die wit poeier met water gemeng en daarmee die mure geverf met growwe borsel kwaste. Die twee het rustig op tannieVoetjie se kombuis stoele sit en verf en was heel onbewus van my daar in die stoepkamer.

Lees voort

Meer blootstelling vir Afrikaanse bloggers

Diegene van ons wie se blogs op wordpress.com op af.wordpress.com gelys is het seker al gesien dat daar ‘n afdeling op die weblog se instrumentpaneel (dashboard) verskyn waar die nuutste inskrywings vertoon word. Ek het altyd gewonder of dit dalk moontlik sou wees om ook so ‘n funksie op die webwerf af.wordpress.com te kon hê. Donderdagaand skryf ek toe ‘n brief aan die WordPress ondersteuningspan met so ‘n voorstel. Eergister kry ek toe ‘n brief vanaf Antony, een van die WordPress span se manne wat al baie behulpsaam was met van ons ander bloggers. Hy bedank my vir my voorstel en sê dat dit moontlik saam met ander gebruikersvoorstelle oorweeg kan word.
Ek het hierdie voorstel aan die hand gedoen juis sodat nuwe sowel as minder bekende bloggers beter blootstelling kan kry.
Kom ons hoop dat die gawe mense van WordPress hierdie voorstel sal aanvaar. Dit sal help om die Afrikaanse blogosfeer nog meer dinamies te maak.

My hartlike dank

Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om vir Bierpens hartlik te bedank omdat hy my ook as een van die medeskrywers hier op Kekkel bygevoeg het. Mag hierdie blog van krag tot krag groei.

Wilhelm van Mariental

Wilhelm was ‘n arbeider op een van die groente plasies by die Hardap besproeings skema. Hy was ‘n noukeurige arbieder wat aandagtig na sy opdragte geluister het. Hy het homself daarop geroem dat die plaasboer hom nie twee keer een ding hoef te vertel het nie. Nee. Wilhelm was nie soos ander wat vir hom onnosel gehou het nie. So het hy dag vir dag die grond bewerk en groente het soos kinders onder sy knap hande gegroei. Dinge was salig en rus en vrede het soos ‘n swaar komber bo op Mariental gelê en niemand sou ooit kon raai dat die rustigheid gesteur sou kon word nie.

Soos die ou wêreld nou maar is kom daar van tud tot tyd winde veranderinge. So het Mariental se dag dan toe ook aangekom. Die Burgermeester wat nie veel te doen gehad het nie, was baie jaloers op oom Hampie wat die burgermeester van Keetmanshoop was. Groen oë het gereeld vanaf Mariental se Burgermeester na Keetmans s’n geflits. Die dag moes dan ook kom dat ou Hampie Keetmanshoop ewe vernaam as die Hoofstad van die Suide aangekondig het.

Nou soos almal weet is die suide van Namibia maar baie arm en niemand stel belang aan die groot oop stuk wêreld waar daar net die Witrand en die Swartrand vir ewig in die son lê en bak met niks tusssenin nie. Boerdery en toerisme was natuurlik die geldmakers vir die suide, maar nadat die Vingerklip loop omval het, het toerisme na Keetmans toe begin kwyn en Oom Hampie moes plan sien om die dorp weer op die kaart te kry.

Lees voort

Mediese personeel en kennis

Pens jy moet maar hier edit of delete soos jy goed dink.

Jy het ‘n baie ware punt aangeraak toe jy gepraat het oor die personeel wat geen vrae kon beantwoord het nie.  Dis skokkend hoe sekere mense se kennis van hulle vakgebeid agteruit gegaan het.  Nog meer hulle weet nie waar om die antwoorde te gaan soek nie.  Dalk sal iemand nuut wees, vars uit die kollege of universiteit en nie die kennis he nie, maar die persoon in bevel van die afdeling behoort te weet of dan ten minste te se:  “Meneer ek’s binne vyf minute terug met al die antwoorde op jou vrae.”  Toe ek my honeurs aan Kovsies gedoen het, was die leuse:  Kennis is wanneer jy weet waar om antwoorde te soek.

Dit gebeur nie meer nie.  Ek het in die week in ‘n sekere hospitaal in ‘n afdeling gestaan waar die eenheidsbestuurder (destydse saal matrone) nie geweet het hoe ‘n bloedglukose masjientjie werk nie.  Een van die verpleegsters moes kom wys, is die “baas” nie veronderstel om meer as die ondergeskiktes te weet nie?  As jy ‘n nuwe instrument kry, sorg jy dat die rep wat dit vinnig wou verkoop jou wys hoe dit werk, of  jy gaan lees die pampiere wat daarmee saam kom sodat jy kan toesig hou dat jou personeel weet hoe werk die ding, hel iemand se lewe is in jou hande.

Sorry, laat ek liewer op hou, maar dit maak my woedend kwaad.  Selfs universiteite erken dat die opleiding agteruit gegaan het.  Studente wat (en ek weet net van Kovsies) voor 1994 afgestudeer het (verpleegkunde) mag nagraadse studies doen sonder ‘n toelatings eksamen, die wat daarna klaar gemaak het moet toelatings eksamen skryf.  Hoekom?  want hulle weet die later groep gaan sukkel of dalk glad nie nagraadse studie kan voltooi nie, want die fondasie was nie reg gele nie. 👿

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg