Was hierdie krimineel regtig so dom?

Ek lees vanoggend ‘n berig op http://www.beeld.mobi, ja, dis die selfoonwebwerf van Beeld, van ‘n vrou van Pretoria wat ‘n klag by die polisie gaan lê het nadat haar dagga gesteel is. Sy noem toe ook die name van drie polisiereserviste wie sy daarvan verdink dat hulle moontlik die dagga kon gesteel het. Die polisie ondervra toe die reserviste en hulle ontken toe dat hulle enigiets daarvan weet. Hulle deursoek toe die huis van een van die reserviste en lê beslag op sestig kilogram dagga. Die drie reserviste sowel as die vrou wat gaan kla het is in hegtenis geneem.
Toe ek hierdie berig lees was my eerste gedagte dat hierdie geval beslis kwalifiseer vir ‘n reeks van South Africa’s Dumbest Criminals as iemand sou belangstel om so ‘n televisieprogram te maak. Maar later dink ek hierdie vrou het inderdaad hierdie polisiereserviste geslaan waar dit die seerste gemaak het. Hulle wou mos polisiemanne wees, al is dit dan net vrywillig. Polisiemanne is mos veronderstel om die respek van die gemeenskap af te dwing. Toe gaan steel hulle ‘n dwelmsmous se voorraad omdat hulle gedink het sy sou niks kon doen nie. Wel, sy het nie noodwendig die nodige manne gehad om hulle te loop opdons soos misdadigers normaalweg sou doen nie, maar sy het hulle eie polisie op hulle spoor gesit. Sy sal nou moet tronkstraf uitdien vir dwelmhandel, maar net so sal die reserviste ook nou moet tronk toe met ‘n reputasie wat erger geskaad is as die dwelmsmous s’n.
Laat dit ‘n les vir ons korrupte polisielede wees. Jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter wil hê nie.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg