Glo jy aan Vrydag die dertiende

Ek kyk nou juis vanoggend weer op die Afrikaanse WordPress blogs rond en kom loer toe so bietjie in by die hoenderhok. Ek was heel verbaas om te sien dat die blok weer sigbaar is al vir ‘n paar jaar. Bierpens het soos gewoonlik nie teleur gestel nie en skryf nog steeds puik stories oor die dinge wat ons gewone mense steeds as vaal beskou. Van rugby en suurgatte tot lyfstraf op skool. Laasgenoemde het ek baie geniet. Baie van ons wat in ‘n sekere era grootgeword het sal ‘n storie of twee hieroor kan vertel.
Aangesien dit dan vandag weer Vrydag die dertiende is, is die vraag of jy wat nou hier lees werklik aan soiets glo?
Ek persoonlik is glad nie bygelowig nie en glo ook nie daaraan nie. Maar indien daar wel in die alledaagse lewe dinge sou verkeerd loop, is dit altyd ‘n handige skuifmeel om die blaam vir wat ook al gebeur het te verskuif.
Verder glo ek ook dat indien jy wel hierdie dag sou vrees is jy dan ook meer geneig om die foute te maak wat dan tot jou slegte geluk lei.
Geniet julle dag baie en mag dit sonder ongelukke, swart katte en wat nog alles wees.

Die hoenderhok kry weer nuwe lewe

Ek is bly om te sien daar is weer nuwe lewe hier op Kekkel. Welkom terug, Bierpens. Mag jy ons weereens vermaak met jou unieke skryfstyl en jou refleksies op die gewone lewe. Jy het ‘n manier om ‘n goeie storie te maak uit die vaal gewone ding van die lewe wat ons ander mense soms verbygaan.
Harry is ook weer terug met een van sy staaltjies en ek geniet dit elke keer.
Verder is die Afrikaanse blogs nog rustig. Meeste van die ou staatmakers is nog steeds met ons en daar is ook ‘n paar nuwe opkomende sterre. Ons vriend Sharpshoot wat verlede jaar lekker hier op Kekkel gesels het het ook nou sy eie blog opgedra aan sy honde. Die avonture van Wagter, Fiefie en Junior. Dis op die oomblik een van die top blogs op die Afrikaanse wordpress.
Mag al julle bloggers julle blogs nog baie geniet. Ek het myne die laaste tyd erg afgeskeep, maar hoop om eersdags weer te begin skryf.
Liefdegroete
Vuurslag

Blogs vs kletskamers

In ‘n gesprek gister hier het die vraag opgekom of blogs se dae getel is en of kletskamers dan nou die werk van blogs oorgeneem het.
Kletskamers is wel ‘n lekker medium waar jy geselsies met ander mense kan aanknoop. Maar blogs het sy eie voordele.
Op blogs kan verskeie onderwerpe, vanaf ernstige sake soos politiek en nuusgebeure tot ligter onderwerpe soos vermaak en sport bespreek word. Dis ook ‘n plek vir ‘n meer onafhanklike analise van dinge wat rondom ons gebeur. Verder kan blogs ook gebruik word om mense met spesifieke belangstellings en stokperdjies bymekaar te bring soos net soos die outydse nuusgroepe en vandag se groepe op sosiale netwerke soos Facebook.
Verder is dit ook goedkoper om op blogs te gesels as in kletskamers. Die meeste kletskamers se geselsbladsy het ‘n funksie wat maak dat die bladsy outomaties op jou rekenaar of selfoon herlaai word. In die proses word heelwat bandwydte verbruik. Die boodskappe in kletskamers bly nie behoue nie. Op blogs het jy self ‘n keuse wanneer jy jou kommentaarblad wil herlaai. Verder bly die kommentare ook behoue sodat jy presies kan sien hoe mense op jou insette gereageer het.
Om op te som, webjoernale het nog ‘n lang toekoms saam met ons. Lank lewe die blogs.

Twee interessante blogs

In my eie swerftog deur die blogs het ek ook twee interessante blogs raakgeloop.
Vir diegene van julle wat kwessies wil bespreek en issues wil uitsorteer is daar ‘n blog getiteld Moermeter, te besigtig by moermeter.wordpress.com. Die skrywer erken hy gooi ‘n vloermoer oor dinge wat sy hokkie skud.
Tweedens is daar ook ‘n interessante storieblog. Gert Sarrisam is ‘n kortverhaalskrywer wat al sy eerste boek gepubliseer het. Ek het al na ‘n onderhoud met hom op RSG geluister toe hy by die Woordfees op Stellenbosch opgetree het. Hy skryf meestal kontreiverhale uit Namakwaland. Nou het hy ook ‘n blog waar van sy skryfwerk gelees kan word. Dis te besigtig by gertsarrisam.wordpress.com.
Lekker lees.

Twee groot bloggers neem afskeid

Meeste van julle bloggers weet dit maar dit was ‘n skok om te verneem dat Pikkelik en Wipneus die blogwêreld groet. Ja, ek weet ek het nooit daar gaan gesels nie, maar ek het gereeld gelees. Jule twe het elkeen al by my blog kom gesels. Julle afwesigheid sal ‘n groot leemte in ons gemeenskap van Afrikaanse WordPress bloggers laat. Mag dit met julle goed gaan en sterkte met die lewensreis vorentoe.

Blogger’s block

Sommige skrywers bevind hulself partykeer in ‘n posisie waar hulle nie aan iets nuuts kan dink om oor te skryf nie. Hierdie toestand staan in Engels bekend as writer’s block. Dieselfde ding gebeur ook soms met bloggers. Jy bevind jouself in ‘n situasie waar jy graag wil blog, maar jy kan net eenvoudig an niks interessants dink om oor te gesels nie. Jy wil nie altyd jou lesers opsaal met die vervelende detail van jou daaglikse lewe nie. Jy wil ‘n onderwerp op die tafel sit waaroor mense lekker kan gesels.
Ek het vanoggend ‘n soektog op Google oor hierdie onderwerp gedoen en gevind dat daar heelwat mense is wat met hierdie probleem sukkel. Ek het vyf bladsye se inligting afgelaai en gestoor wat ek nog moet gaan lees. Maar ek is nuuskierig om te hoor wat ons medebloggers hier op Kekkel en ander Afrikaanse blogs doen om hierdie toestand te beveg en met nuwe idees vir julle blogs na vore te kom.
Diegene van julle wat skerp is sal die ironie in hierdie skrywe raaksien. Hoe kan blogger’s block jou inspireer om te blog?

Meer blootstelling vir Afrikaanse bloggers

Diegene van ons wie se blogs op wordpress.com op af.wordpress.com gelys is het seker al gesien dat daar ‘n afdeling op die weblog se instrumentpaneel (dashboard) verskyn waar die nuutste inskrywings vertoon word. Ek het altyd gewonder of dit dalk moontlik sou wees om ook so ‘n funksie op die webwerf af.wordpress.com te kon hê. Donderdagaand skryf ek toe ‘n brief aan die WordPress ondersteuningspan met so ‘n voorstel. Eergister kry ek toe ‘n brief vanaf Antony, een van die WordPress span se manne wat al baie behulpsaam was met van ons ander bloggers. Hy bedank my vir my voorstel en sê dat dit moontlik saam met ander gebruikersvoorstelle oorweeg kan word.
Ek het hierdie voorstel aan die hand gedoen juis sodat nuwe sowel as minder bekende bloggers beter blootstelling kan kry.
Kom ons hoop dat die gawe mense van WordPress hierdie voorstel sal aanvaar. Dit sal help om die Afrikaanse blogosfeer nog meer dinamies te maak.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg