As kind het ek elke dag jou geel kombi hier verby ons huis gesien ry. In die oggende oppad werk toe en en die aande terug huistoe. Waar jy gewerk het, het ek nooit gevra nie. Ek het net van jou gehoor. Die dag het ek en my vriend rustig op die stoep sit en gesels toe jy daar verbyry. My vriend het vir jou gewaai en jy het vriendelik geknip met ‘n aansteeklike glimlag.
Rudolph vertel my toe dat jy een van die miljoene Jode was wat in ‘n konsentrasie kamp gebly het en wat die dood en ander afgryses daagliks in die oë moes kyk. Jy wou nie baie daaroor praat nie. Die bietjie wat jy aan my vriend se pa vertel het was genoeg om die hare op my nek te laat rys.
Ek het jou daarna kort-kort in die dorp sien loop. Jy was maar ‘n ou oompie van wie die rug krom was van op ‘n bondeltjie slaap saam met duisende ander ‘n skuur toe jy maar ‘n jongman was. Die keer toe die Duitsers jou en negetien ander jong manne kom haal het en beveel het om julle eie grafte te grawe. Een van die jong manne het teë gestribbel en is summier met ‘n Luger deur die kop geskiet. Daarna is vir julle vertel dat julle kan kies. Wil julle onder die grond begrawe wees of wil julle in die woud bly lê waar roofdiere aan julle sou kom knaag.

Almal het gedweë begin grawe, want niemand wou in die woud op die grond by lê terwyl die Duitsers laggend weg geloop het nie. Julle het uiteindelik klaar gegrawe en elkeen moes voor sy eie graf gaan kniel. Die skop van die koël in die jong manne se voorkop het elkeen agteroor in sy eie graf laat val. Hierdie dag het ‘n engel van agter ‘n boom uitgekom en die duitser se loop met sy vinger toegehou, want die Luger wou opsluit nie skiet nie. Die Duitser het sy makker vevra om sy pistool te leen maar na ‘n kort gesprek was daar besluit dat jy die agtien grafte moes toegrawe en die eerste jongman in jou graf te sleep en hom ook te begrawe.
Jy het tot diep in die nag die grafte toegegrawe en by elke nuwe graf moes jy afkyk op een van jou vriende wat daar gele het met oop oë vol verbasing. Jy het huilend elke graf toegegrawe en vir elke man gebid. Daarna het jy daar bly sit tot hulle jou kom haal het en terug loop boender het tussen jou ander verhongerde makkers in. Twee dae daarna het die geallieerde magte daar aangekom en julle so gevind. Jy het een kyk in die eerste geskokte gesig van die vriendelike Amerikaner gegee en het bitterlik begin huil. Die emosielose huil van ‘n man wat duisende van sy nasie sien vermoor het. ‘n Man wat die dood soveel keer in die oë moes kyk dat dit vir hom later nie meer saak kon maak nie. ‘n Man wat so honger was dat die vriendelike soldate jou jou na die hospitaal tent geneem het waar die verlpleergsters met die sagte handjies op jou voorkop jou weer moes leer eet het. Soos toe jy ‘n baba was. Jou trane het bly vloei. Jy het nooit jou eie geluk geglo nie.
Ek het jou kort voor jou dood by die kafee sien uitkom. Jy het sukkenlend geloop soos alle oumensies maar loop. Skielik het jy vasgesteek aandagtig na die grond gestaar en toe gebuk om die broodkorsie op te tel wat een van die klonkies argeloos daar neergegooi het. Soos jou arm by jou ou baadtjie mou uitstrek na die brood korsie toe, sien ek met afgryse dat daar ‘n groot ry nommers op jou arm getattoeer was. Stadig het jy weer orent gekom en jy het die broodkorsie versigtig in jou baadtjie se sysak gesit en toe stadig huiswaars begin loop het. Jou gedagtes was baie ver. Miskien so ver as die kamp waar die samaritane jou kom kry het.
Hoe kon julle daardie nommer op die man se arm getattoeer het? Hoe KON julle? Watter soort mense was julle? Watter soort mens neem dit om al die ander onbeskryflike afgryses aan hierdie nasie pleeg?
Diep in elke Jood se hart het hulle die wêreld lankal reeds vergewe. Al is daar soveel anti semitisme in ons ou samelewing. In die Midde Ooste is daar weer magte aan die woel teen die mense van Israel. Wat sal van God se uitverkorenes word? Mag hulle as ‘n voorbeeld vir die ander nasies dien. Mag hulle ongekende geduld en hardwerkendheid posvat onder almal. Want eers dan sal die nasies van die wereld vrede kan ervaar.
Vir Blixer, die trotse Boere Jodin.
Filed under: Harry | Tagged: stories | 5 Comments »





