Posted on November 29, 2009 by harrylouw
Soms word daar mense op hierdie ou aarde gebore met meer as die gewone kwota van sjarme en aantreklikheid. Die Here plaas hulle hier om dinge vir ons ander beter te maak. Enige iemand het al so ‘n person ontmoet. Die person is gewoonlik heel aantreklik en as hy of sy klaar met jou gesels het dan voel jy goed en opgewek. Jy voel selfs vir daai een oomblik baie belangrik. Want hierdie person het ‘n gawe om met jou gevoelens te toor. Hy of sy weet net watter knoppie om te druk. Hetsy met gemoduleerde stem of met oë wat jou aangryp en die aandag gevange hou. Mense wie jy na baie jare onthou . Daar is so min van hulle op hierdie aarde. Dis asof hulle opmaak vir alles wat die gewone lelike ou bogger soos ek moet verduur.
Oom Pietjie was een van hulle. Hy was een van my moedertjie se jonger broers. Hy het nooit nodig gehad om iets vir jou te verduidelik nie. Hy het die gawe gehad om sy goeie begrip in ‘n halwe word oor te dra. Sy blik kon jou bevange hou. Jy kon hom altyd deur ‘n ring trek. Ek was baie beïndruk met oompie Pietjie al was ek maar ‘n paar bakstene hoog. Hy het eenkeer hier in Windhoek vir ons kom kuier al die pad van Van Rhynsdorp af. So het my moedertjie hom dan gevra om saam met haar dorp toe te gaan. My moedertjie is een van daai vroumense wat nie ‘n pad kan onthou wat sy al soveel keer gery het nie.
Lees voort →
Filed under: Harry | Tagged: storie | 1 Comment »
Posted on November 28, 2009 by harrylouw
Oom Papjan en sy vrou Martha het op Graafwater gebly. Hoekom sy naam Papjan was, dit weet ek nie, want oom Papjan moes geseënd gewees het met ‘n goeie stamina en tant Martha met ryk vrugbaarheid om elke 10 maande ‘n ou nuwe kleintjie die wêreld in te kon bring. Dit was die dae van die depressie en die armblanke. Meeste mense wat op Graafwater gebly het, het as arbeiders vir die spoorweë gewerk. Hulle het dan in spoorweghuisies gebly waarvan die buitemure van sink was, maar netjies witgeverf was. Die venster banke was maar laag en al wat leef en beef kon in jou pot kyk wat vandag op die tafel bedien gaan word.
So was tannie Martha dan nou bekend vir haar vlytigheid in die tuin en groente het soos onkruid onder haar hande floreer. Sy was veral bekend vir haar boontjies en daar was min mense wat ‘n pot boontjiesop soos tant Martha kon maak. Sy het die uitgebriede kroos dan so op boontjiesop groot gemaak omdat daar nie altyd vleis op tafel kon wees nie. Die dag dat sy dan boontjiesop kook kon jy dit ver ruik en dan het ieder en elk verby die venster kom loop en met afguns na die pot pruttende boontjiesop gekyk.
Lees voort →
Filed under: Harry | Tagged: stories | Kommentare af op Voet in die bek
Posted on November 27, 2009 by harrylouw
Ek staan in Okahandja en wag rustig vir my swaer se seun om die mondelingse bestuurslisensie eksamen te doen sodat hy sy leering lisensie kan kry. Soos alle klein dorpies is Okahandja baie rustig en dit kom sak op jou skouers neer soos ‘n mantel. Ek staan en kyk in die verte soos my gewoonte is en dan skielik voel ek die ou bekende gekriewel teen my been op wat my dadelik herhinneringe aan my kleuterdae in my gemoed op bring.
Met ‘n glimlagggie van plesier loer ek skuin teen my been af en daar kom sy sukkel sukkel aan gekruip om my te kom herhinner hoe kosbaar die lewe op aarde is. Ek buk af en tel haar op en met die ou gebaar van so baie dekades terug. Sy ruik nog altyd na die aarde. Ek soen haar versigtig op haar vet ruggie en sy trek soos van ouds haar agterlyfie krom asof sy harregat wil se: “Soen my agterent.” Die kinders se gegril trek my aandag en laat my seepbal bars.
Lees voort →
Filed under: Harry | Tagged: stories | Kommentare af op Somer van die Koringkrieke
Posted on November 26, 2009 by harrylouw
Op Lutzville het ou mal Theuns gebly. Op hierdie stadium het oupa Piet en sy vrou Alie en al hulle stout kinners, van wie my ma een was, ook hier gebly. Nou ou mal Theuns het ‘n redelike graad van autisme gehad. Maar hy was altyd vriendelik en met ‘n jollie smaail op sy gesig. Teen die stadium wat my moedertjie hulle hom geken het was hy al ‘n man van in sy sestigs , maar met die verstand van ‘n sewe jarige. Ou mal Theunis moes bedag s in sy pa se boorde werk. Daar het hy soos ‘n slaaf gewerk maar teen vier uur het hulle hulle die sluise oopgedraai. Dan het almal opgepak en dan was die dorp mal Theuns sin om te gaan waar hy wil.
Mal Theuns het vinnig geleer waar hy mog gaan en waar hy soos ‘n sleg hond weg gejae is. En van sy beste kuier plekke was by Alie Truter omdat haar hart so sag was en groot genoeg sodat mal Theuns ook ‘n plekkie daar gehad het saam met haar hele kroos. As jy dan nou vir mal Theins kry dan kom staan hy voor jou met ‘n glimlag van oor tot oor. Een van daai glimlagte wat aan sy twee blou ogens loop raak het en die sterre daarin laat skyn het. Helder oordag. Al was Theunis al oor die sestigs, kon jy maar net oorleun en in sy hare woel en hom nader trek en ‘n stywe drukkie gee. Dis nou as jy nie omgegee het dat hy bietjie op jou hempsak kwyl nie.
Lees voort →
Filed under: Harry | 2 Comments »
Posted on November 25, 2009 by harrylouw
Sharpie het sy mening oor die wreedheid teenoor diere baie duidelik te kenne gegee en ek kan nie anders as om met hom saam te stem nie. Dis net nie reg nie. Veral toe hy na honde verwys het, het ek geweet hy het sy drie kindertjies ingedagte gehad. Wagter, Fiefie en Junior. Die liefde wat jy vir jou hond kan hê is tasbaar. Ek het so ‘n hond gehad. Dit was wat hulle ‘n Africanis noem. ‘n Lokasiehond. Tog het hierdie honde ‘n lang stamboom wat uit Egipte kom. Hulle was jaghonde vir die migrerende swart nasies soos hulle afbeweeg het na die suide van Afrika tot waar die Zulu sy vas skop plekkie aan die Ooskus gekry het waar Pensie vandag in vrede woon.
Hierdie Africanis honde is sag geaard met die hart van ‘n Moeder Theresa. Nooit, maar nooit het ou Boelie my telleur gestel nie. Altyd was hy daar met sy harseer oë as ek droewig gehuil het. En altyd was hy daar met bokspronge as ek vrolik was. Hoe vervang jy so ‘n vriend?
Aan ‘n onvoorwaardelike vriend.
Vanaand het jy vrypostig jou nat snoet teen my been kom druk en toe ek afkyk was dit nie jy nie. Dit was ‘n Bullterrier tefie. Maar in haar oë het ek joune gesien. Kleinbasie, waneer kom stap jy weer saam met my? Hoe jy my met oneidige liefde aankyk soos die liefde wat net ‘n hond vir sy kleinbaas kan voel.
Lees voort →
Filed under: Harry | 2 Comments »
Posted on November 24, 2009 by harrylouw
Johanna het in Sandberg gebly. Daardie jare was die depressie in volle swang en almal het vreeslik swaargekry. Meeste vrouens was maar gehawend aangetrek omdat daar skaars geld was vir kos. Wat nog te se rok materiaal. Johanna het soos meeste ander vrouens rok gemaak van mieliemeelsakke af, want die materiaal was baie sag en jy kon dit mooi met blouseep smeer en dan in die son lê tot dit spierwit is. Maar as jy vir Johanna van nader betrag het dan sou jy die onduidelike naam en embleem uitmaak van die meulenaar waar die mieliemeel vandaan gekom het.
Johanna was ‘n opgeskote meisiekind wat ryklik in die bolyf geseën was met twee indrukwekkende borste. So indrukwekkend dat sy Dolly Parton in skaamte haar kop sou laat sak het. Dit is dan hoe sy die naam Damwal by die jaloerse anties gekry het, En soos dit dan nou met onvlyende byname is, het dit hardnekkig bly kleef aan die arme meisiekind. Nou, Damwal was ‘n meisie met ‘n droom.
Lees voort →
Filed under: Harry | 2 Comments »
Posted on November 23, 2009 by harrylouw
Ek stel hom voor waar hy met ‘n vuil tulband om sy kop aandagtig oor sy raam sit en die wol van sy angora bokke weef. ‘n Tapyt neem vorm aan en hoe langer hy weef, hoe meer sien jy van sy patroon. Ek het laas week by die mall by ‘n tapyt winkel ingestap en sommer net rondgedrentel om al die tapyte te sien. Ek weet nie regtig of hierdie tapyte uit Persië kom soos wat daar gespog word nie. Ek is nie seker of daar van hulle is wat in die donker stegies van Konstantinopel deur die ou wewer met die vuil tulband geweef is nie.
Die geur van die tapyte is stowwerig. Sand vlaktes van Timboektoe. Tartaarse ruiters wat bakbeen aan hul perde vasgegroei is om ‘n oosterse minotaur van die woestyn vlaktes te maak. Die stofstorms wat oor die godverlate vlatkes aangejaag kom met drommende hoewe. Die bulk van kamele. Stof in die nou stegies van hierdie eeue oue stad. Stof wat op die wewer neersif waar hy beskud teen die wind in die agterstrate ingedagte sit en weef. Die stof wat vandag hier in die mall my sinusse kielie.
Ek soek rond vir die waarheid wat ek eendag by ‘n tannie gehoor het. Sy het my vertel dat haar duurste persiese tapyt die antieke een is waarin daar ‘n foutjie ingesluip het. Tussen al haar peperduur tapyte was die een met die glipsie juis die een wat vir haar duur te staan gekom het en die een wat sy werklik waardeer.
Lees voort →
Filed under: Harry | Tagged: afrikaans, stories | 9 Comments »
Posted on November 22, 2009 by harrylouw
My eerste ses maande as student in Pretoria moes ek noodgedwonge in ‘n goedkoop hotel in Kerkstraat gaan bly. Dit gebeur as jy sloer met jou registrasie. Die feit dat die girltjie wat saam met my gewerk het, skielik swanger geraak het en haar studies moes kanselleer, het veroorsaak dat daar vir my ‘n plek in die klas ontstaan het. Ek onthou soos gister hoe my swaer en my vadertjie saam met my deur die nag gery het om in Pretoria te kom. Ons het so vir Kerkstraat heel van bo af gevang in Pretoria Wes en so aangekarring tot by Kerkplein. Hier het ‘n poeliesman ons gestop en gesê “Nee Meneer, hier mag julle nie deur ry nie.”… “Dis seker heilige grond”; brom my pa…. “Oom Paul staan mos daar”; lewer my swaer kommentaar.
So het ons dan weer vir Kerkstraat gekry na ‘n lang gespook met eenrigtingstrate en uiteindelik by die Eureka Hotel aangeland. My pa en en my swaer het dan die dag hier saam met my deurgebring en die volgende oggend vroeg is hulle daar weg. Ek onthou die aleen onder die ou plataanboom terwyl ek my vadertjie en my swaer in sy Skyline sien wegry. Ek was alleen in ‘n stad vol mense en motors. Aanpassing was vinnig, want as jy jonk is, is die lewenspad besaai met eenvoud.
Lees voort →
Filed under: Harry | Tagged: stories | 1 Comment »
Posted on November 21, 2009 by harrylouw
Oom Daantjie Huysamen was ‘n legend op sy eie in die Sandveld en verder noord in Namakwaland. Baie oumensies kan jou vertel van hom en hoe hy hulle agterwêrelde warm geklop het op skool. Ja, oom Daantjie was ‘n onderwyser. My pa het hom onthou as ‘n laerskool onderwyser in Alexander Baai en my ma onthou hom as ‘n laerskool onderwyser op Vredendal waar sy skool gegaan het. Dat my ma tien jaar jonger as my pa is, behoort te verduidelik hoekom hy vir albei kon klasgee.
Nou, oom Daantjie was bekend as ‘n streng onderwyser. Ek is amper doodseker die spreekwoord van “Oom Daantjie en die kallerhok” het sy ontstaan by dié gramstorige oompie gehad. Moerig was hy en het nie gehuiwer om die lat te swaai nie. Dis seker dié dat sy gebrek deel geword het van sy naam omdat kinders en ouers maar skugter was vir hom en dat hy nie baie gewild was in Alexander Baai nie.
So onthou my pa hoe een laaitie eendag uit die klaskamer so huil-huil uitgestap kom na hy ‘n drag slae gekry het en loop en kerm: “Die donnerse ou kruppel Daantjie!”… min wetende dat oom Daantjie reg agter hom geloop het. Oom Daantjie het hom net daar aan sy kraag beetgepak en gesê. : “Nou kom dan dat ek weer kan probeer om jou maniere te leer”
Lees voort →
Filed under: Harry | Tagged: stories | Kommentare af op Kruppel Daantjie en die gans.
Posted on November 20, 2009 by harrylouw
As ek oor die mense van Namaqualand skryf, dan skryf ek nie om die spot te dryf nie, maar ek skryf oor hulle met deernis en trots. Daar is so min mense op hierdie aarde wat regtig weet wat armoede en swaarkry beteken. Soos my sussie noudiedag oorgekom het. Daar is so baie mense wat jou in die kafee op die hoek kry en dan staan en klae met ‘n witbrood onder elke arm en dan boonop nog ‘n lekker pakkie Knorr hoendersop ook . Die Namaqualanders vanmelewe was brandarm en dood gelukkig. As die gemoed gedruk het dan het jy ‘n glasie vaaljapie of twee saam met jou pelle gedrink en dan was alles weer mooi en die kleur was terug op die vlaktes soos gousblommetjies na die winter reëns.
Een van my pa se pelle waaroor hy lekker kon gesels, was Blaasbalk. Blaasbalk het sy naam gekry met die gewoonte wat hy gehad het om hard asem te haal. Dis nou een man wat geweet het suurstof is verniet en jy kan maar soveel gebruik as wat jy wil. As ek elke maand so na die water rekening sit kyk, dan wonder ek partykeer wanneer die goewerment my vir suurstof gaan begin charge. Maar dis nie my storie nie.
Lees voort →
Filed under: Harry | Tagged: stories | 10 Comments »