Lang Herman en die blik kondensmelk


My vadertjie Lang Herman was sonder enige euwels en vices. Ek het vir hom in my hele lewe bitter min hoor vloek. Die kere wat hy wel gevloek het was van pure skrik of om die outiëntisiteit van die storie te hou wat hy besig was om te vertel sodat dit darem nie afgewater was nie. Hy was altyd  so sagmoedig en ek het vir hom so selde kwaad gesien. Ek self het net twee keer in my lewe pak gekry by hom en die pakke slae het ek verdien en onthou dit tot vandag toe nog.

Lang Herman was ‘n man wat geglo het het aan roetine en hy sou liewer by sy geliefde huis bly as om te loop kuier. My vadertjie het nooit saam met sy vriende kroeg toe gegaan nie. Hy het nooit meer as een bier gedrink nie en ek het hom in my hele lewe nooit dronk gesien nie. In sy jonger dae voordat hy getroud is wat hy ook baie nougeset met sy studies oor die pos en het veel eerder geleer as wat hy saam met vriende ringkink het by die myn kroeg. Tog was hy altyd populêr met die mense om hom.

Lees voort

Sias en sy hond Boela.

Nouja mense dit is dan my laaste storie vir hierdie jaar. Ek moet eers bietjie vakansie hou so tot januarie. Dan sal ek weer begin stories aanstuur. Intussen sal ek sal seker so dan en wan ‘n live update storietjie hier kom los soos ek kans kry. Ek wens julle ‘n geseënde krismis en ‘n voorspoedige jaar toe van my kant af.

Sias was een van daai fris boerseuns wat jy in die Sandveld kry. Bang vir gin niemand nie en so sterk soos ‘n trek os. Hy kon ‘n tollie van sy voete af lig. Of die sort mense nog in Piketberg se kontrei gekry word, dit weet ek nie. Maar Sias was een van daai reuse wat op sy pa se merino skaapvleis grootgebring is.

Soos Sias groot geword het, het hy soos alle jongmans maar sy pelle om hom beginne vergader en dan is hulle elke naweek saam plaas toe waar hulle dan geringking het.  Sias was ‘n man wat skoon brandewyn gedrink het soos wat ander mense bier sal drink. En dit het ‘n kas Brandewyn gekos om hom dronk te sien. Sy pa, ou Basjan, het oud begin word en toe maar die leisels in die falterende hande van die jeug oor gegee en Sias moes begin boer. In die week het Sias dan soos ‘n slaaf gewerk maar hier teen Vrydag het hy Piketberg toe gery waar hy dan die nodigheidtjies by Porterville Landbou Koöperasie gaan koop het en dan sommer ook vir sy pelle in die bar gaan sit wag het. Ledig was hy nie daar nie en het een glas na die ander vol brannewyn sit suip.

Lees voort

Tant Sarah en die katjies

Soms doen mense dinge wat hulle nie moes doen nie. Dinge wat hulle op die ingewing van die oomblik doen en dan berou. Of nie berou nie. Soms doen  mense afgryslike dinge en verhard hulle harte daarteen en so bêre hulle dit dan diep in hulle onderbewussyn weg. Dan eendag val hierdie ding wat hulle gedoen het skielik weer uit die diep, donker kas van hul gewetens om in die daglig te kom lê in al die euwel waarin dit gedoen is.

Tante Sarah het in Lutsville so teen die kant van die dorp gewoon. Nie te ver weg waar Hannie hulle gewoon het nie. Tant Sarah het ‘n groot wyfie gemmerkat  gehad. Dit was een van daardie soort katte wat so te sê permanent op hitte was met die hele dorp se mannetjie katte wat by haar erf kom meeding het om die gunsies van díe wyfie. Soos dit nou maar met die soort van kat is, was sy vrugbaar en het elke keer 12 kleintjies voortgebring wat dan deur die dorp se mense een-een aangeneem is.

Lees voort

Neef Hannes en sy Toyota Corona

Toe Hannes nog klein was, was hy maar skraal. Toe eendag toe beginne eet die mannetjie meer as sy gewone kwota en so het dit aangegaan dat hy later al meer en meer geëet het. So vertel my pa (Hannes is my neef, maar my pa se broer Jaap was baie ouer as hy so Hannes was nie veel jonger as my pa nie) dan dat hy in die oggend dou voor dag al vier skaapwagter snye brood met appelkoos jêm op geëet het. Dan sal hy op die werf rondsuiker en so tien uur se kant dan kom kry hy sy sit by die kombuis deur op die paraffin blik met ‘n steun wat dan beteken hy is reg vir sy volgende paaiement van sy ontbyt. Dan het tannie Anna vir hom twee duim dik snye brood met peanut butter aangedra met een helse enamel beker vol tee wat jou ogens laat traan het van soetgeit.

As oom Jaap vir tante Anna vra vir wat sy so baie suiker in die mannetjie se tee gooi dan seg sy ewe vroom. “Outof the sweetness will cometh strength.” Wie kan dan nou stry met ‘n sêding wat op byde ‘n stroop blik en in die groot Boek geskrywe staan? Hannes het dan die dik snye brood met smaak sit eet. Eers druk hy dit in die tee en dan sit kou hy behaaglik aan die pappery. Hy sal dan alles kafdraf en die tee uit drink en dan die laaste dreksetjies op die werf uitskiet. So sal hy dan met sy tormmeldik magie oor die werk sit uit tuur na die hoendertjies was daar onder in die sand skrop. My pa sê wat hom elke keer laat lag het is die oomblik wat hy dan opstaan. Hy sal so skuins na die kombuis deur draai en dan vra: “Ma wanneer eet ons da’ vidag?”

Lees voort

Oom Abrahams met die nommer op sy arm.

As kind het ek elke dag jou geel kombi hier verby ons huis gesien ry. In die oggende oppad werk toe en en die aande terug huistoe. Waar jy gewerk het, het ek nooit gevra nie. Ek het net van jou gehoor. Die dag het ek en my vriend rustig op die stoep sit en gesels toe jy daar verbyry. My vriend het vir jou gewaai en jy het vriendelik geknip met ‘n aansteeklike glimlag.

Rudolph vertel my toe dat jy een van die miljoene Jode was wat in ‘n konsentrasie kamp gebly het en wat die dood en ander afgryses daagliks in die oë moes kyk. Jy wou nie baie daaroor praat nie. Die bietjie wat jy aan my vriend se pa vertel het was genoeg om die hare op my nek te laat rys.

Ek het jou daarna kort-kort in die dorp sien loop. Jy was maar ‘n ou oompie van wie die rug krom was van op ‘n bondeltjie slaap saam met duisende ander ‘n skuur toe jy maar ‘n jongman was. Die keer toe die Duitsers jou en negetien ander jong manne kom haal het en beveel het om julle eie grafte te grawe. Een van die jong manne het teë gestribbel en is summier met ‘n Luger deur die kop geskiet. Daarna is vir julle vertel dat julle kan kies. Wil julle onder die grond begrawe wees of wil julle in die woud bly lê waar roofdiere aan julle sou kom knaag.

Almal het gedweë begin grawe, want niemand wou in die woud op die grond by lê terwyl die Duitsers laggend weg geloop het nie. Julle het uiteindelik klaar gegrawe en elkeen moes voor sy eie graf gaan kniel. Die skop van die koël in die jong manne se voorkop het elkeen agteroor in sy eie graf laat val. Hierdie dag het ‘n engel van agter ‘n boom uitgekom en die duitser se loop met sy vinger toegehou, want die Luger wou opsluit nie skiet nie. Die Duitser het sy makker vevra om sy pistool te leen maar na ‘n kort gesprek was daar besluit dat jy die agtien grafte moes toegrawe en die eerste jongman in jou graf te sleep en hom ook te begrawe.

Jy het tot diep in die nag die grafte toegegrawe en by elke nuwe graf moes jy afkyk op een van jou vriende wat daar gele het met oop oë vol verbasing. Jy het huilend elke graf toegegrawe en vir elke man gebid. Daarna het jy daar bly sit tot hulle jou kom haal het en terug loop boender het tussen jou ander verhongerde makkers in. Twee dae daarna het die geallieerde magte daar aangekom en julle so gevind. Jy het een kyk in die eerste geskokte gesig van die vriendelike Amerikaner gegee en het bitterlik begin huil. Die emosielose huil van ‘n man wat duisende van sy nasie sien vermoor het. ‘n Man wat die dood soveel keer in die oë moes kyk dat dit vir hom later nie meer saak kon maak nie. ‘n Man wat so honger was dat die vriendelike soldate jou jou na die hospitaal tent geneem het waar die verlpleergsters met die sagte handjies op jou voorkop jou weer moes leer eet het. Soos toe jy ‘n baba was. Jou trane het bly vloei. Jy het nooit jou eie geluk geglo nie.

Ek het jou kort voor jou dood by die kafee sien uitkom. Jy het sukkenlend geloop soos alle oumensies maar loop. Skielik het jy vasgesteek aandagtig na die grond gestaar en toe gebuk om die broodkorsie op te tel wat een van die klonkies argeloos daar neergegooi het. Soos jou arm by jou ou baadtjie mou uitstrek na die brood korsie toe, sien ek met afgryse dat daar ‘n groot ry nommers op jou arm getattoeer was. Stadig het jy weer orent gekom en jy het die broodkorsie versigtig in jou baadtjie se sysak gesit en toe stadig huiswaars begin loop het. Jou gedagtes was baie ver. Miskien so ver as die kamp waar die samaritane jou kom kry het.

Hoe kon julle daardie nommer op die man se arm getattoeer het? Hoe KON julle? Watter soort mense was julle? Watter soort mens neem dit om al die ander onbeskryflike afgryses aan hierdie nasie pleeg?

Diep in elke Jood se hart het hulle die wêreld lankal reeds vergewe. Al is daar soveel anti semitisme in ons ou samelewing. In die Midde Ooste is daar weer magte aan die woel teen die mense van Israel. Wat sal van God se uitverkorenes word? Mag hulle as ‘n voorbeeld vir die ander nasies dien. Mag hulle ongekende geduld en hardwerkendheid posvat onder almal. Want eers dan sal die nasies van die wereld vrede kan ervaar.

Vir Blixer, die trotse Boere Jodin.

Moeder Mary en die slang

Moeder Mary, soos almal haar geken het, was ‘n non op die sendingstasietjie langs die rivier vir so lank as wat almal kan onthou. Die sendingstasie was daar selfs voor ou Giel Louw sy opwagting kom maak het. Waar ou Moedertjie Mary vandaan kom weet niemand nie, want niemand sou sommer vir ‘n non so iets gevra het nie. Namakwalanders was nou maar eenmaal nie so nie. Die sending stasietjie was daar om geloof onder die Namas te versprei en om die siekes te behandel met die bietjie medisyne wat die Vatikaanstad vir hulle van tyd tot tyd gestuur het.

Moedertjie Mary was een van daai mense met ‘n sagte ou hartjie en al wat sy ooit op deeske ou aarde wou doen was om ander mense te help. So was sy dan ook die liefling van die kontrei en het regtig geen vyande gehad nie. Die seun, Herman was dan ook een van haar talle bewonderaars wat graag daar by die sendingstasie ‘n draai gemaak het om te gaan gesels met moedertjie Mary. Met die dat Moeder Mary sedert haar prille jeug by die betrokke stasie gewerk het, kon sy Afrikaans vlot praat, want die mense in die kontrei kon nie ‘n woord Brits praat nie.

Soos ek reeds vertel het, was my vadertjie ‘n man wat baie lief was vir visvang. Groot dele van sy jeug het hy langs die Groot Rivier spandeer met ‘n lyn in die water . Hy het maar meestal rivierbabers gevang. Jy kan maar sê dat babers ‘n stapelvoedsel was vir sy groot gesin. Dit is dan ook nou nie vreemd om vir klein Herman díe dag langs die rivier walle aangestap te sien kom nie. Soos hy aanstap, so slaan hy die gras en die biesies teen die hoë walle en hoop dat daar dalk ‘n paddatjie kan uitspring daar wat hy dan as aas kan gebruik om ‘n barber mee te vang.

Lees voort

Ou Moedertjie by die Vulstasie

Sy sit rustig onder die tiekieboks waar die petrol joggie by die garage haar eergister aand gevra het om te loop sit. Eers het hy haar parmantig kom wegjae, maar na mooipraat het hy nader gestaan en tien Rand van haar geëis. Jy kan hier bly en ek sal vir jou lift vra by die mense, maar dan moet jy betaal en jy moet maak soos ek sê.

So het sy dan met bewerige oumens vingertjies in haar beursie gekrap en toe haar laaste twee vyf Rand stukke uitgehaal en aan hom toevertrou. Gisteroggend toe sy en die tjint onder die hokkie wakker word, was hy daar en het haar gevra om ‘n ent verder onder die boom te loop sit, want die baas van die garage hou nie van leeg lêers nie. Sy het moeisaam opgestaan en die kjint aan haar klein handjie geneem en die kjint het haar vol vertroue gevolg tot by die boom waar sy op ‘n baksteen gaan sit het. Die kjint het dadelik in die sand onder die boom begin speel en ou Saartjie het stip na die garage sit en staar. Elke keer as die joggie petrol by iemand in gegooi het het sy voor oor geleun en gehoop hy kry vir haar ‘n lift. Twee keer kon sy haar geduld nie beteuel nie en het sy die tjint gevra om te wag en toe vir die joggie loop vra wat aangaan.

“Nee meme!” seg hy.” Jy moet wag. Die mense wat nou intap bly hier rond en ry nie in jou rigting nie. Loop sit onner die boom voor ek innie moeilikheid kom!” So het sy dan haar leë twee liter Coke bottel weer volgemaak onder die lang kraan en het sy weer koers gekies na die boom waar die tjint sit en speel. Die son was warm. Dit het moordend uit die hemel op die barre aarde neergeskyn. Soms het daar vreemdelinge onder die boom by hulle kom sit, maar elke keer het hulle aangeloop.

Die son het begin water trek en later gesak en die petrol joggie het ‘n skril fluit gegee en haar nader gewink. Hier het sy weer onder die tiekieboks gaan sit. Sy sit en kyk stip voor haar uit met ‘n uitdrukkinglose gesig. Plooietjies van absolute swaarkry is genadeloos op haar ou gesiggie uitgebeitel deur Vader Tyd. Sy sit en dink aan ‘n week terug toe die tyding gekom het. Haar jongste dogter is in die hospital oorlede aand die slaapsiekte wat hulle ook Aids noem. Die mense in die hospital het na die Oub’s op die plaas gebel. Sy het met ongemak in hulle sitkamer by die telefoon loop staan en met ‘n strak gesig na die poeliesman op die telefoon geluister. Iets het in haar dood gegaan toe sy die nuus hoor. Sy het net daar gestaan en haar skouers het geruk totdat Oumies die telefoon by haar vat en verder praat.

Oumies het haar kombuis toegevat en vir haar lekker soet suikerwater aangemaak wat sy met saligheid staan en proe proe het. Oumies het haar vertel dat haar jongste ‘n kind gehad het en dat díe nou ‘n wesie is. Hulle het haar gevra om die kind te kom haal.

Vroeg-vroeg die volgende oggen het Oub’s haar dorp toe aangery saam met ses broeipare van spierwit ganse. Op die dorp het Oub’s met een van die meubel lorrie drywers gesels en hom ietsie in die hand gestop. Sy het daarvandaan agter in die meubel lorrie gery tussen duur meubels onder army komberse. So het sy by die polisiestasie gekom en vir die eerste keer oë op haar jongste kleinkjind geslaan. Die kleinding was tog te mooi. Uitgeknip na haar eie moedertjie toe díe so groot was. Die ou kleintjie het sommer na haar toe gekom en haar oumens handtjie geneem en dit nie weer laat los voordat hulle nie by die petrol stasie gekom het waar die lorrie drywer haar afgelaai het nie.

Sy buk eenkant toe en soek na die ou kombersie wat sy vir die kjint saamgebring het teen die aand koue. Saggie woel sy dit om die kjint sodat díe nie kan siek raak nie. Sy sit en bid saggies vir die Oubaas in die hemel om vir haar manna te stuur want nooit het sy kon dink dat sy so lank vir ‘n lift sal moet wag nie. Sy weet nie hoe sy die kjint verder gaan voer nie. Twaalfuur middag het sy die kjint die laaste boerbrood gevoer wat Oumies ingepak het. Honger het sy sit en kyk hoe die kjint die brood verorber .

Skielik kom staan die vrou wat in die kar gesit en het langs haar. Die ou vroutjie kyk verskrik op in die sagte oë vol jammerte wat na haar staar. Dan hou die vroutjie en haar man vir haar twee garage pies en twee koeldranke uit. Die man gee ook vir die kjint sweets. Die ou vroutjie neem dit met ‘n koue rillig wat deur haar ruggraat af kriewel. Meteens weet sy dit is twee Engels wat die Jeeri gestuur het. Die twee Engels klim in hulle kar in en ry daar weg terwyl die wyfie Engel vir oulaas in haar rigting kyk. “Dankie vir die manna, Jeeri”, prewel die ou oumatjie en sit en kyk hoe die kjint die meat pie eet. Versigtig bere sy die ander meat pie in die streepsak , want more oggend gaan die kjint weer honger wees. Sy sit met ‘n dankbare glimlag om haar gesig en drink aan die koeldrank. Saggies sing sy Psalm 23.

Dankie vir jou en Lover, hartjie. Julle het ‘n ou vroutjie weer laat glo dat daar Engele op aarde is. Mag God julle ryklik seen.

Puru Puru

http://deurdiewoestyn.wordpress.com

Fabels uit Namaqualand

Duifie het ‘n nes in een van die Karee bome gemaak wat al teen die walle van die Oranjerivier groei. Hier het sy vir haar ‘n stewige nessie met droë stokkies gebou wat die rivier maar elke jaar afbring in die reënseisoen. In die nes het sy vier eiers gelê en een more vroeg het ieder en elk van hulle uitgebroei en die kuikens het sukkel-sukkel hulself van binne af uitgepik. So sy het van vroeg af heen en weer gevlieg om  kos vir die hongerbekkies te bring. Alles was mooi en rustig… Tot ‘n die jackals sy verskeining maak….

Jakkals het uit die sandvlaktes aangedraf gekom om uit die rivier te kom drink en dadelik het sy skerp neus die reuk van kuikens geruik. Hy was asvaal van die hongerte, want daar is nie juis ‘n oorvloed van prooi in die sandvlaktes van Namakwaland nie. So het hy onder die boom stelling kom in neem en toe versigting in die take sit en opkyk. Hy sien toe vir Duifie raak op haar nes en so begin sy dreigemente dan.

“Duifie as jy nie vandag een van jou kuikens vir my afgooi nie, dan klim ek in hierdie boom op en dan kom vreet ek vir jou nes, kuikens , derms en al op!” Na ‘n halfuur van dreig is duifie darem nou toe ook al baie op haar senuwees en sy kan ook nie meer reguit dink nie. Dis toedat sy haar laaste moed bymekaarskraap en die kleinste kuiken uit die nes uit stamp reg in Jakkals se groot oop wagtende bek. Jakkals het die kuiken met smaak geëet en is skuins-skuins daar weg en Duifie het gehoop dis die laaste sien van hom.

Lees voort

Die Kneg van God

Om die Griqua volk te verstaan moet jy weet waar hulle vandaan kom. Hulle was eers bekend as  die Baster Hottentotte en op ‘n voorstel  van Pastoor John Campbell van die Londense Sending Stasie het hulle hul naam verander na wat dit vandag is. Die Griqua benaming het ontstaan uit die word Grigriqua wat Khoikhoi  beteken aangesien hulle sulke bande met hierdie stamme gehad het.

Nadat spanning tussen die Griquas en die trekboere in die Oranje Vrystaat en in die Kaap Kolonie ontstaan het het Adam Kok III, die kleinseun van Adam Kok I, wat die oorspronklike leier  van die Griquas was, besluit om met sy volk weg te trek. Hierdie mense het dan van Phillipolis na ‘n gebied wat  “Niemands Land” geheet het getrek en dit toe vernoem na Griqualand-Oos in 1861 en daar na het hulle getrek na wat (sover ek weet) vandag nog bekend staan as Kokstad in 1872.

Niemand hou van ‘n droë geskiedkundige sage nie en ek sou hierdie verhaal nie geskryf het as die nie vir die profisieë was nie. Volgens vertelling sou daar ‘n leier gebore word wat die Griqua nasie uit hul verdrukking kon lei. Dis is waar die verhaal interessant word en die spanning begin.

Lees voort

Jan Vetkop en die Chevrolet Impala

Gister staan ek in die tou by Checkers en wag dat die till operateur die ou tannie voor my klaar help. Die ou tante was maar baie bewerig en het kort-kort met askies-dat-ek-lewe ogies omgekyk en dan verskonend en bang vir my geglimlag. Elke keer het ek haar maar my gerustellende glimlag gegee om haar te verseker dat ek baie tyd haad en nie haastig was nie. Terwyl die tante dan met ‘n bewerige ou vingertjie in haar verslete beursie grou vir kleingeld, val my oog op die lekkers in die rakke wat jy by elke till sal kry.

Die rakke wat vir jou vra of jy onthou het om skeermeslemme of bulbs vir jou huis te koop. Of Lunchbars… Nou kyk, ek het vir jarre der jarre geen Lunchbars geëet nie en skielik was elk lus om my tanne weer in een in te slaan en net daar laai ek dit toe in die mandjie. Net die soveelste slagoffer van die last minute “Het jy onthou rak” langs die till.

Die tantetjie draai vir oulaas om en gee my ‘n laaste glimlaggie met die laaste bietjie vrees wat uit haar dowwe ou ogies sypel en dan stap sy weg op die kenmerkende skuifelstappie van die oues van dae. Ek pak my goedtjies maar so op die till en betaal en stap uit na my bakkie toe. Agter die stuurwiel onthou ek die Lunchbar en net daar skeur ek die omhulsel af en vat my eerste hap sedert ek maar ‘n klein mannetjie was.

Lees voort

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg