Min mense sien die absolute skoonheid van die dorpie, Hentiesbaai in as hulle eers in Swakopmund was. Swakopmund is ons mekka vir al wat toeriste is van oorsee tot die mense van RSA wat kom kuier. Maar as jy van die plaaslike mense ken dan verlaat jy gewoonlik die toeriste roetes en dan trap jy jou eie stel spore deur die namibsand. Soos jy aangery kom na Henties baai, so kry jy van ver af die uitdrukking dat dit net maar nog ‘n kampeer plek langs die see is met ‘n naam soos Wlotkasbaken of Jakkelsputz, maar soos jy naderkom sien jy dan die huise duideliker waar hulle tussen die soutbosse opstaan en dan weet jy dat jy in Hentiesbaai arriveer het. Jy bevind jou op ‘n netjies dubbel laan hoofstraat wat dan tot by die eerste 4 rigting stop uitloop en hier draai jy dan links as jy na die naaste hotel wil gaan om jou keel bietjie nat te maak.
Die hotel wat jy die maklikste sal vind in Hotel De Duine. Hierdie hotel staan gebou op een helse groot sandbank. As jy op die rand van die sandbank gaan staan dan lê die see uitgestrek onder jou. Hoeveel keer het ek daar gestaan en dan sommer my hande na weerskante uitgestrek soos ‘n dominee van sy kudde seën na die kerkdiens. Dan het ek my ogens toegemaak en my verbeel ek is ‘n seemeeu en die see briese wat van onder van die see af opstoot boontoe na waar ek staan gee my die ervaring van ‘n meeu in die vlug. Koel seelug met die geur van salpeter en bamboes in my neusgate. Verlore in die droomlug om my.
As jy by die vier rigting stopstraat reguit aanry kry jy die golfbaan van Hentiesbaai. Hierdie glofbaan bestaan maar eintlik net uit 9 putjies met setperke hier en daar in die oop sand. As jy jou bal hier in die wind in afslaan staan jy met jou oë vol seesand. Soms sal ‘n parmantige seeumeeu kom neestryk en dan laat spaander met jou bôl na wie weet waar in die woestyn en en jy sal daai bôl nie nie weer sien nie. Soos jy met die straat aanry kry jy dan jou eerste draai in die pad en op die binnekant van die draai sal jy dan Oom Jolly se blou en wit muur sien met die groot geskrif daarteen: “Jolly Patrollie” Hoeveel glimlagte het díe naam ontketen?
Ek het reeds van oom Kas en sy Tornado geskryf maar ek sal nooit verby oom Jolly se muur ry sonder om aan oom Kas ook te dink nie. Oom Kas was die een man wat oom Jolly se muur twee keer omgery het en twee keer weer moes laat opbou het. Die eerste keer was dit met sy Ford Cortina drieliter bakkie en die twede keer was dit met sy Alfa Romeo. Oom Kas was een van die manne wat graag by De Duine in die kroeg gaan kuier het tot wie weet hoe laat in die nagte. Dan was daar gefuif sonder weerga. Soos die partytjie dan tot ‘n end kom, het oom Kas dan in sy motor geklim en so van oom Kas van Tsumeb af in gedaante verwissel tot Stirling Moss van London… Dan was die oop pad oom Kas se speelplek en kon díe oom jaag. Daar was niks fout met sy manier van bestuur nie. Daar was net een fout met oom Kas. Hy kon nooit die draai in die pad voor oom Jolly se huis onthou nie.
Eers as die letters Jolly Patrollie voor hom opdoem, dan het hy onthou maar dan was dit ook te laat. So het hy twee goeie karre afgeskryf en twee mure gebou. Oom Jolly self, was nooit kwaad vir oom Kas nie. Die twee het baie van mekaar gehou. Oom Jolly was bekend dat hy die grootste stel tools in sy garage gehad het waar selfs die eienaar van die plaaslike vulstasie van tyd tot tyd by hom kom tools leen het. Baie keer was ek soontoe om ‘n spesiale tool te gaan leen en elke keer het ek ‘n bottle Chateau en coke saamgevat. Oom Jolly het ‘n snaakse manier gehad om sy dop te mix. Hy het eers ‘n goeie skoot brandewyn ingegooi. Dan een kwart coke en een kwart water onder die kraan loop intap. Ek self het maar sy voorbeeld gevolg om nie aanstoot te gee nie. Dit was nogal nie te eienaardig nie. Die dop drink ek nog van tyd tot tyd as die gewone dop te soet raak en in my keel vasteek.
Die dop noem ek en almal wat ek ken ‘n Jolly Patrollie. Met groot deernis dink ek vanaand aan oom Jolly. Ek sien hom sommer op sy stoep staan en na die karre staan en kyk soos hulle verbykom. ‘n Ou oom wat in Henties kom aftree het na ‘n leeftyd van motors herstel. Al wat hy deesdae doen is om te kyk hoe die karre verbyry. Wat in oom Jolly se gedagtes omgaan, sal niemand seker ooit weet nie. Miskien wonder hy waneer iemand weer en van sy tools wil kom leen. Miskien is hy lus vir ‘n Jolly Patrollie.
Puru Puru





Thanx vir die verrasinkie Harry
Dankie Harry – soos Pens tereg sê: ‘n surprise vir woensdag.
Ek sien hulle vat jou aan daar op klontkoppies pensie.
laat delsh haar self geniet …
Ai Harry, jou stories sorg altyd vir ‘n glimlag met ‘n effense knop in die keel… dis lekker om te lees, dankie!
Ek is bly ek het gevind waar jy nou skryf
Pensie, dis lekker om in te loer op jou plaas en ek geniet jou skrywe ook, wens ek het tyd gehad om meer saam te kuier ook.
Great skrywe Harry. En ja, Henties is ‘n vreeslike nice plek!
Ek’t al amper gekots van dronkgeit daar.
Harry dit was nou pragtig om te lees, ek sê pragtig omdat ek almal in die storie kan sien , die dorpie die blou huisie met die “jollie Patrollie” die gefuif by die hotel! … die duine en ek kan die see sommer ruik, Ook oom Cas wat die muur omjaag
dit is absoluut goed gevertel, dit maak prent;jies in my kop.
Ek sien jy is ook iemand wat dinge so in prentjies in die kop sien en dan wegbêre daar diep iewers vir die onthou. Jy moet altyd skryf dit is regtig ‘n talent.
(oppas net om nie celeb te word nie
dan gaan die ander Jollie op Patrollie jou uitmekaar trek! veral as jy beter as sy kan skryf.
Pensie wil skryf … Harry gooi somer drie stories op ‘n Sondag middag … dit laat my manlikheid krimp as ek Harry se werk eers lees …